Konsep: hierdie teks moet nog deur iemand met regskennis nagegaan word.
Privaatheidsbeleid
Laas bygewerk: 10 Oktober 2026
Dorpsplein bring mense in Orania bymekaar wat met mekaar handel wil dryf, vir eers werkgewers en werknemers. Hierdie beleid verduidelik watter persoonlike inligting ons versamel, waarom, en wat jou regte is ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA).
Wie is verantwoordelik?
Die verantwoordelike party en Inligtingsbeampte is Tertius van Niekerk. Kontak: privaat@dorpsplein.co.za.
Watter inligting versamel ons?
- Rekening: jou naam en e-posadres, en jou wagwoord (net as ’n onomkeerbare hash). As jy met Google aanmeld: jou Google-rekening-ID en profielfoto.
- Profiel: selnommer, opskrif, “oor my”, foto, belangstellings en jare ervaring, die tipes werk wat jy soek, kwalifikasies en of jy beskikbaar is.
- Tegnies: vir elke aangemelde toestel die IP-adres en blaaiertipe, en tellers wat herhaalde aanmeldpogings beperk.
Waarvoor gebruik ons dit?
- Om jou met werk en werkgewers te verbind, en om jou in kennis te stel van werk wat by jou belangstellings pas.
- Om jou rekening te beveilig (aanmelding, e-posbevestiging, wagwoordherstel, beskerming teen misbruik).
- Om met jou oor jou rekening te kommunikeer. Ons stuur nie bemarking nie en verkoop nooit jou inligting nie.
Ons verwerk jou inligting op grond van jou toestemming, wat jy gee wanneer jy jou profiel opstel.
Wat kan ander sien?
As jou profiel publiek is (die verstek), kan enigiemand met die skakel jou foto, opskrif, “oor my”, ervaring, kwalifikasies, beskikbaarheid en “lid sedert” sien. Besoekers wat nie aangemeld is nie, sien net jou voornaam en die voorletter van jou van; aangemelde lede sien jou volle naam. Profiele word nie deur soekenjins soos Google geïndekseer nie. Jy kan jou profiel op enige tyd privaat maak, dan sien net aangemelde lede dit.
Jou e-posadres en selnommer is nooit publiek nie. Jou selnommer sal eers met iemand gedeel word wanneer julle ooreenkom om saam te werk.
Wie verwerk jou inligting namens ons?
- Neon (databasis, gehuisves in Frankfurt, Duitsland).
- Cloudflare (gasheer van die webwerf en jou profielfoto).
- Resend (stuur e-posse soos bevestiging en wagwoordherstel).
- Google (net as jy kies om met Google aan te meld).
Hierdie dienste stoor inligting buite Suid-Afrika. Ons gebruik net verskaffers wat onderworpe is aan wette of ooreenkomste wat ’n vergelykbare vlak van beskerming bied, soos POPIA artikel 72 vereis.
Hoe lank hou ons dit?
Solank jy ’n rekening het. As jy jou rekening laat uitvee, word jou profiel, foto en verwante inligting verwyder. Tot die selfdiens-uitveefunksie beskikbaar is, kan jy dit per e-pos vra.
Koekies
Ons gebruik net noodsaaklike koekies: om jou aangemeld te hou, en om te onthou dat jy jou profiel opgestel het. Geen advertensie- of opsporingskoekies nie.
Jou regte
- Om te vra watter inligting ons oor jou het.
- Om onakkurate inligting te laat regstel (die meeste kan jy self op jou profiel doen).
- Om jou inligting te laat uitvee, of om beswaar te maak teen die verwerking daarvan.
- Om ’n klag by die Inligtingsreguleerder in te dien: inforegulator.org.za.
Stuur enige versoek na privaat@dorpsplein.co.za.
Veranderinge
As ons hierdie beleid wesenlik verander, laat ons jou weet voordat dit in werking tree.